Die Duitse trio Medium Terzett het in 1966 op uitnodiging van Ully Schell tydens die duur van ons Republiekfees die publiek kom vermaak in die German Pavillion Restaurant in Johannesburg. Die drie manne het twee van ons top musikante, Hansie Roodt (baskitaar) en Johnny Campbell (tromme), nader getrek om hulle te begelei tydens hul optredes hier, en toe ook gebruik tydens die opnames vir hul spesiale toeralbum “Medium Terzett On Tour” (Polydor LPHM 84512 opgeneem in Mei 1966). Die Duitse uithang-restaurant was met elke optrede gepak gewees en hul langspeler het daarna soos soetkoek verkoop. Na die sukses van hul talle optredes hier was hulle ook genooi om as een van die aantrekkingskragte in die hoofprogram op te tree tydens die gewilde jaarlikse Karnaval in Windhoek, Suidwes-Afrika (nou Namibië).
Die Medium Terzett het bestaan uit Helmut "Henry" Niekamp (gebore 07 Mei 1933 in Voxtrup en oorlede op 24 November 2015), Lothar Nitschke (gebore 26 Mei 1932 in Breslau en oorlede op 02 Oktober 1999 in Osnabrück) en Wilfried Witte (gebore op 01 Maart 1935 in Voxtrup). Helmut was die hoofsanger en ritme-kitaarspeler; Lothar was op kitaar, akkordeon en agtergrondsang, terwyl Wilfried medesang gedoen het, en ook die kitaar en mandolien beman het. Die groep het merendeels Schlagerpop en folkmusiek gedoen.
Hul eerste optrede was in 1954 tydens die Fire Brigade Festival in Melle, en daarna vele optredes by streeksfeeste in Duitsland. In 1960 het hul groot deurbraak uiteindelik gekom toe hulle ontdek is deur Peter Frankenfeld, wat hulle dadelik op televisie laat verskyn het. Hulle was toe sommer gou gereelde gaste in van die gewildste Duitse TV-vermaakprogramme soos "Vergifmeinnicht" en "Dalli Dalli". In 1961 behaal hulle ‘n 6de plek by die German Schlager Festival in Baden-Baden, en dit met hul treffer "Südsee-Ballade". In dieselfde jaar het hulle ook ‘n treffer met "Der Ganze Kahn Ist Voller Heimweh" (The whole boat is full of homesickness). Nog treffers volg daarna o.a. "Winnetou", “Buffalo Bill” en "Der Schatz Im Silbersee" (aldrie in 1963). In 1965 neem hulle weer deel aan die Schlager Festival en dit met hul snit “Farewell Winnetou”. Aan die einde van die 1960's het hulle egter hul grootste treffers met "Ein Loch Ist Im Eimer" en "Drei Chinesen Mit Dem Kontrabass". Tot aan die einde van die 80's was die trio nog gereeld gesien in verskeie televisieprogramme o.a. “Dalli Dalli” en “Zum Blauen Bock”, en op elke radiostasie was hul stemme byna daagliks gehoor. Hulle was met optredes nog aktief tot in die laat 1990’s, en met die afsterwe van Lothar Nitschke in 1999 het die ander twee ook besluit om halt te roep.
![](https://i.ytimg.com/vi/lE3Cev3I8S4/mqdefault.jpg)